NOORDWES. – Ahmad Zeeshan (38), ‘n Pakistanse burger, het op 30 Desember 2025 in verband met die moord op Desmonica Cloete (16) in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Die tienermeise se liggaam is glo op 28 Desember 2025 deur die beskuldigde op die vloer by sy woning aan sy broer uitgewys.
Luidens ‘n verklaring van lt.kol. Sam Tselanyane het die beskuldigde sy broer geskakel en om hulp gevra. Die broer het die beskuldigde se woning besoek, waar die liggaam in die slaapkamer aan hom uitgewys is. Die broer het aanvanklik toegelaat dat die beskuldigde by sy woning skuil. Hy het egter die voorval by die Jouberton-polisiekantoor aangemeld, waarna polisiebeamptes hom na sy woning vergesel en die verdagte in hegtenis geneem het. Hierna is die beskuldigde van moord en oortreding van die immigrasiewet aangekla. Hy is ná sy eerste hofverskyning steeds in aanhouding om regsverteenwoordiging en ‘n tolk te verkry.
Hy sal weer op 8 Januarie in dieselfde hof voorkom. Die ondersoek duur voort.





