Brekende Nuus
Nuus

KYK: 9 sterf nadat straler neerstort en in vuurbal ontplof

Foto: Skermgrepe van video-opname Greg Dee

Video-opname in berig.

VSA. – ’n Learjet 60 het Sondag 1 November omstreeks 12:50 plaaslike tyd in ’n woongebied naby Cresthaven, Florida, neergestort. Nege mense was aan boord.

‘n Video-opname van die vliegongeluk is op die amptelike Facebook-blad van die weerkundige Greg Dee gedeel. Hy spesialiseer in die monitering van erge weerstoestande, insluitend tropiese stelsels en tornado’s.

Videomateriaal van ’n voertuig se paneelkamera wys hoe die vliegtuig uit die lug val en die grond met ’n ontploffing tref, terwyl ander voertuie op die pad verbybeweeg. Volgens Sean Duffy, die Amerikaanse minister van vervoer, het geeneen van die nege mense aan boord die ongeluk oorleef nie.

Volgens die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie (FAA) was die vliegtuig vanaf Austin-Bergstrom Internasionale Lughawe in Texas onderweg na North Eleuthera-lughawe in die Bahamas. Die FAA en die Nasionale Vervoerveiligheidsraad (NTSB) sal die ongeluk ondersoek.

Volgens die beskikbare lugverkeersbeheer-opnames het die vlieëniers kort voor die ongeluk turbulensie, ysafsetting en neerslae aangemeld en gevra om hoër te vlieg. Die vliegtuig het kort daarna vinnig hoogte verloor en die vlieënier het ’n noodoproep gemaak. Ongeveer 600 inwoners van ’n nabygeleë gemeenskap in karavane is as voorsorgmaatreël ontruim terwyl noodspanne die toneel hanteer het.

Bronne: FAA, Local 10 News, Associated Press, ABC News en Flightradar24