Die opkomende sangeres en liedjieskrywer Bella het haar eerste Afrikaanse solo-enkelsnit, Mis Jy My Al, vrygestel en gee daarmee ’n eerlike kykie in die tema van verlange, herinneringe en onbeantwoorde vrae. Ná suksesvolle samewerkings die afgelope jaar, tree sy nou selfversekerd na vore met ’n persoonlike lied wat haar groei as kunstenaar beklemtoon.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die vrystelling wys Bella se vermoë om emosie en egtheid in haar musiek vas te vang en dat haar solo-debuut ’n belangrike mylpaal in haar loopbaan verteenwoordig. Volgens hom is daar groot verwagtinge vir wat nog uit haar pen kan vloei.
Musiekliefhebbers het Bella aanvanklik leer ken met haar duet saam met Chris Steyn, Winter In Die Kaap, waarna sy ook met haar weergawe van Travelin’ Soldier saam met haar pa, Arnold Coleske, beïndruk het. Met Mis Jy My Al skuif sy egter die fokus na haar eie storie en kreatiewe stem.
Volgens Bella gaan die lied oor iemand wat net vir ’n kort tyd deel van jou lewe was, maar ’n blywende indruk gelaat het. Dit verken daardie bekende gevoel wanneer iemand aanbeweeg, maar jy steeds met herinneringe sit en wonder of hulle ooit terugdink. Sy verduidelik dat die inspirasie uit ’n universele emosie spruit waarmee baie mense kan identifiseer. Die lied is nie noodwendig oor een spesifieke persoon nie, maar eerder oor die gevoel van verlange en die “wat as”-vrae wat dikwels bly. Bella hoop luisteraars sal hul eie ervarings in die lirieke herken. Volgens haar is die doel dat mense moet voel hulle is nie alleen met hul emosies nie en dat die lied ’n gevoel van nostalgie en gedeelde menslike ervaring oproep.
Die musiekvideo is in Stellenbosch verfilm en fokus op eenvoudige, natuurlike tonele wat die lied se sagte en nostalgiese atmosfeer ondersteun. Die bekende vermaaklikheidspersoon Buksem maak ook ’n verskyning in die video, wat volgens Bella ’n prettige en ontspanne ervaring was om te verfilm.
Met hierdie vrystelling bevestig Bella haarself as ’n kunstenaar met die vermoë om diep emosies in musiek te omskep – en dui alles daarop dat daar nog baie betekenisvolle stories uit haar hart en pen gaan volg.
Mis Jy My Al is hier op alle digitale stroomdienste te kry.





