Brekende Nuus
Nuus

KYK: Corlea keer terug met nuwe enkelsnit ‘Trappe’

Foto: Hendri Fourie

Byna drie jaar ná haar laaste oorspronklike vrystelling keer die sangeres Corlea terug met haar nuwe enkelsnit, Trappe, wat ook ’n postume samewerking is met die ontslape liedjieskrywer Johan Oberholzer.

Fanie Nel van die Coleske Groep sê Trappe is oorspronklik deur Oberholzer geskryf. Corlea het sowat vier of vyf jaar gelede by Oberholzer se huis in Pretoria ’n vroeë demo van die liedjie gehoor. Die liedjie het aanvanklik net uit ’n eerste vers en koor bestaan en het later weer op Corlea se pad gekom. Sy het dit ná Oberholzer se dood verder ontwikkel en voltooi.

Die titel Trappe verwys na die trappe van vergelyking – mooi, mooier, mooiste – wat Oberholzer gebruik het om die ontwikkeling van liefde te beskryf. Volgens Corlea gaan die liedjie nie net oor liefde nie, maar ook oor die noodsaaklikheid om saam in ’n verhouding te groei. “Die musiek wat ek sing, moet ek kan voel tot in my siel en my wese,” sê Corlea.

Sy is tans verloof aan JD Mars en sê sy ervaar self die mooi van liefde in haar lewe. Vir haar is Trappe terselfdertyd ’n liefdeslied en ’n huldeblyk aan Oberholzer, wie se skryftalent sy bewonder het. Die enkelsnit word vergesel deur ’n minimalistiese omslagbeeld met Corlea in ’n swart uitrusting op ’n stel trappe. Die foto is deur Hendri Fourie geneem, met Mamilla Fashions, FDK Styling en Josh verantwoordelik vir die res van die visuele aanbieding.

“Ek is mal oor die liedjie. Ek dink die boodskap is ongelooflik en ek glo dit is iets waarby elkeen aanklank sal kan vind,” sê Corlea.

Druk hier om Trappe op alle stroomdienste te kry.