Demi Lee Moore, een van Afrikaans se gewildste sangeresse, is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit, Daai Gevoel, byna ‘n jaar ná haar album Klein Dingetjies en nadat sy ‘n ma geword het.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die liedjie is deur die ontslape en geliefde liedjieskrywer Johan Oberholzer geskryf, met wie Demi Lee ‘n hegte vriendskap gedeel het en wat ook haar deurbraakwenliedjie Mis Eet Slaap Herhaal, geskryf het waarmee sy die eerste seisoen van Die Kontrak gewen het.
Daai Gevoel is ‘n energieke, opbouende liefdesliedjie wat Demi Lee doelbewus buite haar musikale gemaksone neem. Die liedjie se boodskap is eenvoudig maar kragtig – dit moedig luisteraars aan om sonder vrees of onsekerheid te leef. Daai Gevoel kan vir elkeen iets anders beteken: ‘n geliefde persoon, ‘n herinnering aan ‘n goeie vakansie, of bloot die vreugde van dans en sing.
Die musiekvideo, waarin Demi Lee vir die allereerste keer haar dansskoene aantrek, is saam met professionele danser Jac-Louis Snyman verfilm. Die opname het oor byna 24 uur gestrek en is op drie verskillende stelle verfilm. Ten spyte van die lang ure en koue toestande beskryf Demi Lee dit as een van die mees vervullende ervarings van haar loopbaan. As nuwe ma sê sy die uitdaging het haar aangevuur om die beste weergawe van haarself te word.
Daai Gevoel kan hier op verskeie digitale platforms gekry word.





