Brekende Nuus
Nuus

KYK: Kleuters besoek hof in Strand – ontmoet landdroste en polisiebeamptes

Foto: Skermgreep van video-opname Clever Kid Academy

Video-opnamers in berig.

WES-KAAP. – Vir die kleuters van Clever Kid Academy het ’n uitstappie na die Strand-landdroshof op Donderdag in ’n opwindende les oor die reg ontaard toe landdroste, aanklaers, polisiebeamptes en hofbeamptes saam met hulle “hof gespeel” het. Die uitstappie het ‘n hofverskyning, getuienis in camera en besoeke aan die hofselle ingesluit waartydens die kleuters kon deel wees van die prosedures.

’n Landdros het die kinders persoonlik deur die hofgebou geneem en hulle ’n kykie agter die skerms gegee. Die kleuters het ook polisiebeamptes van die Strand ontmoet, vrae gevra en is by die hof met spesiale lekkernye bederf.

Clever Kid Academy sê die idee vir die uitstappie het by vanjaar se beroepsdag ontstaan, toe van die kleuters soos polisiebeamptes en een soos ’n regter aangetrek het. Vir die kleuterskool sluit die besoek aan by ’n doel wat reeds met die skool se stigting 12 jaar gelede gestel is. Kinders moet reeds vroeg aan verskillende beroepe blootgestel word en aangemoedig word om hul skoolloopbaan te voltooi en hul drome na te jaag. Die skool het die hof- en polisiebeamptes bedank vir hul warm ontvangs en die geduld waarmee hulle die kinders se vrae beantwoord het.