GAUTENG. – Verskeie dele van Tshwane is vanoggend deur ‘n kragonderbreking geraak ná ’n ontploffing by die Waltloo-substasie. Die ontploffing het die 132 kV Njala-invoersubstasie laat afskakel (trip), waarna toevoer na verskeie primêre substasies ontwrig is. Brandbestryders van die Mamelodi- en Silverton-brandweerstasies is na die toneel ontbied, waar hulle werk om die brand onder beheer te bring en te voorkom dat dit na omliggende gebiede versprei.
Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die Stad Tshwane, sê tegnici van die elektrisiteit- en energieafdeling is ook op die toneel en werk saam met die nooddienste om die elektriese infrastruktuur wat deur die brand geraak is, te beoordeel en te bestuur. Die omvang van die skade en oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie. ’n Volledige ondersoek sal eers plaasvind nadat die brandbestrydingsoperasie afgehandel is en dit veilig is vir tegniese personeel om die infrastruktuur te ondersoek.
Die Stad doen ’n beroep op lede van die publiek om weg te bly van die gebied en nie met die werk deur nooddienste in te meng nie. Brande waarby elektriese infrastruktuur betrokke is, kan ernstige risiko’s inhou en die publiek word versoek om nie die substasie te nader, te inspekteer of self in te gryp nie.
Kliënte wat deur die Waltloo-, Wingate-, Heatherley-, Mooikloof-, Wapadrand-, Scientia-, Highlands-, Willows-, Lynnwood-, Villieria-, Koedoespoort-, Pumulani- en Pyramid-substasies bedien word, word tans geraak. Mamelodi 1, 2 en 3, asook die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR/CSIR), word ook geraak. Die presiese gebiede wat onder die kragonderbreking gebuk gaan, word ook nog bevestig.
Die Stad Tshwane se nooddienste sal op die toneel bly totdat die situasie onder beheer is en die impak van die brand beoordeel kan word. Verdere inligting sal bekend gemaak word sodra meer besonderhede beskikbaar is.