WES-KAAP. – ’n Man is verlede Woensdagaand in Seepunt in Kaapstad uit ’n gevaarlike situasie gered nadat hy uit ’n gebou geval en in ’n nou skag vasgekeer was.
Alderman JP Smith, lid Stad Kaapstad se burgemeesterskomitee vir veiligheid en sekuriteit, sê brand-en-reddingsdienste het ‘n noodoproep ontvang van ‘n persoon wat verskeie verdiepings geval het. Met aankoms in Regentweg het reddingspanne vasgestel dat die voorval meer kompleks was as wat aanvanklik aangemeld is. Die man het glo van die dak van ‘n vyfverdieping-gebou sowat 10 meter in ’n geslote skag geval. Gespesialiseerde reddingspanne, ondersteun deur tegniese reddingsvoertuie en ’n leerwa, is onmiddellik ontplooi. Met die hulp van Metro-redding en Life Healthcare Response is omliggende paaie tydelik gesluit om die operasie veilig en doeltreffend uit te voer. Die span het gevorderde reddingstegnieke gebruik om die man veilig uit die beperkte ruimte te lig.
Hy is op ’n draagbaar geplaas en met behulp van die leerwa versigtig na die grond gebring, waarna hy vir verdere mediese behandeling na ’n hospitaal vervoer is.





