NOORD-KAAP. – ‘n Man (37) is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal nadat hy Maandag die Overland-drankwinkel in New Park, Kimberley, aan die brand gesteek het. Video-opnames van die voorval word op sosiale media versprei.
Lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê verskeie items in die winkel is in die brand vernietig. Litabe sê die Kimberley-polisie neem kennis van beeldmateriaal van die brand. ‘n Brandstigtingsaak is by die plaaslike polisiekantoor oopgemaak en die verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy het self ernstige brandwonde opgedoen en ontvang tans mediese behandeling.
Die polisie se ondersoek duur voort.





