KYK: Misdaadintelligensiebeampte doodgeskiet, grootskaalse soektog na verdagtes

Lees ook :

Foto: KZN VIP Protection Services

KWAZULU-NATAL. – Twee misdaadintelligensiebeamptes van die polisie is vroeër vandag (Donderdag) in Mount Edgecombe geskiet. Een is noodlottig gewond. ‘n Grootskaalse soektog na verdagtes is van stapel gestuur.

Volgens brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, is die beamptes in die Mount Edgecombe-omgewing aangeval. Die bestuurder van die staatsvoertuig is op die toneel dood, terwyl die tweede beampte ernstig beseer, vir dringende behandeling per helikopter hospitaal toe geneem is.

Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale kommissaris, het die aanval ten sterkste veroordeel en gesê alle beskikbare hulpbronne is ontplooi om die verdagtes op te spoor. Gespesialiseerde polisie-eenhede, insluitend speurder- en georganiseerde misdaadspanne werk saam om die oortreders vas te trek, terwyl beradingsdienste aan die familie en kollegas van die oorlede beampte gebied word.

KZN VIP Protection Services se nooddienste bevestig dat dié diens en veiligheidsvennote op ’n voertuig vol koeëlgate in Flanders-rylaan afgekom het, waar twee polisiebeamptes beseer aangetref is. Een is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander in ’n kritieke toestand deur gevorderde lewensondersteunende intervensie gestabiliseer en hospitaal toe gevlieg is.

Die presiese omstandighede rakende die skietery is nog onbekend en word ondersoek. Flanders-rylaan bly gesluit terwyl owerhede op die toneel werk.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief