Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Riaan Benadé het sy nuwe enkelsnit, Lof, uitgereik wat ‘n liefdeslied is waarin hy die waarde van waardering en opregte liefde vir ‘n lewensmaat beklemtoon. Benadé en sy vrou Melissa vier ook vandag hul jongste, Daniël, se tweede verjaardag.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die enkelsnit volg op Benadé se vorige vrystelling, Kattebak, en bou voort op sy kenmerkende styl van eerlike lirieke en temas waarmee baie mense kan identifiseer.
Volgens Benadé het die lied op ‘n persoonlike manier ontstaan. Hy vertel dat hy dit aanvanklik begin skryf het om vir sy vrou, Melissa, te wys dat hy ook liedjies oor haar skryf. Soos die lied ontwikkel het, het hy besef dit gaan uiteindelik daaroor om haar lof te besing en uiting te gee aan hoeveel sy vir hom beteken. Benadé meen Lof sal veral by getroude paartjies aanklank vind. Hy sê mense praat dikwels die mooiste van hul lewensmaats wanneer hulle nie daar is om dit te hoor nie en dat daar iets besonders daarin lê.
Die musiekvideo sluit by die eenvoudige boodskap van die lied aan. Benadé en sy orkes, wat almal uit getroude mans bestaan, verskyn daarin sonder uitgebreide spesiale effekte of groot produksies om die fokus op die lied se boodskap te hou. Met Lof wil Benadé luisteraars aanmoedig om hul waardering vir die mense naaste aan hulle nie net te voel nie, maar ook gereeld uit te spreek.
Lof kan hier op alle stromingsdienste gekry word.

Foto: Riaan Benadé Privaat




