Brekende Nuus
Nuus

KYK: Sunette Bridges se Ashleigh stel solosnit vry

Foto: Ashleigh Blvck

VSA. – Ashleigh Blvck het Woensdag, op Veteranedag in die VSA, haar eerste solosnit, Secondhand Salvation, uitgereik. Ashleigh is Sunette Bridges se dogter en Bles Bridges se kleindogter.

Sy het dié datum gekies om veterane te vereer en aandag te vestig op die uitwerking wat hul ervarings lank ná hul diens steeds op hulle kan hê. ’n Veteraan het ook die musiekvideo verfilm.

Sunette Bridges, Ashleigh se ma, sê sy moedig haar dogter al jare aan om haar eie liedjies op te neem. Ashleigh was 17 toe sy Nina as ’n duet vir haar oupa se album Dankie Vir Alles opgeneem het. Tussen ’n groot verhuising, universiteit en werk by die brandweerdiens het haar eie musiek eers later aan die beurt gekom. Dié keer het Ashleigh en haar broer Wium self die produksie behartig. Bridges sê die lirieke oor leef en oorleef ontroer haar elke keer wanneer sy daarna luister.

Ashleigh sê die lied gaan oor hoe maklik mense raad gee oor ervarings wat hulle nooit self moes deurmaak nie. “You learned the language of survival. I learned what it makes of you,” lui een van die reëls. Sy het Secondhand Salvation ook as die titelsnit van haar debuutalbum gekies, waarin sy oor rou, trauma en die nagevolge van oorlewing skryf. Die snit is volgens Bridges op stromingsplatforms beskikbaar.

Ashleigh Blvck se Facebook-blad

Lees wat die trotse mamma oor haar spruit se vrystelling sê:

Om te sê dat ek opgewonde is om my Liefste Lulu se 1ste solosnit vry te stel, beskryf nie naastenby die vlinders in my maag en die Mamma-trots in my hart nie… haar laaste “amptelike” opname was toe sy op die ouderdom van 17 die liedjie “Nina” as een van die duette op haar Oupa se “Dankie Vir Alles” album gesing het. Ek soebat haar al vir jare om haar eie liedjies op te neem, maar tussen die Groot Trek, Universiteit en die Brandweerdiens, was die tyd net nooit reg nie… Nou is dit uiteindelik tyd vir haar om op haar eie, unieke manier, haar musiek met julle te deel en ek kan nie WAG dat julle Woensdag, 11 November, na “Secondhand Salvation” kan luister en die musiekvideo kan sien nie!

Dié keer het mamma op die kantlyn gestaan en het Ashleigh en Wium hierdie hele produksie op hul eie hanteer. Ek het dit seker nou al ‘n honderd maal geluister en elke keer loop die trane… Daar is soveel LEEF en OORLEEF in haar lirieke dat dit soms my hart breek, want niemand wil hê dat hul kinders hartseer moet beleef nie, maar dit is ook terselfdertyd hierdie dinge wat hulle sterk maak…

Jy kan intussen gaan aansluit by Ashleigh se Facebookblad waar jy na ‘n stukkie van “Secondhand Salvation” kan luister en ook die skakel sal vind om die liedjie op Spotify te “Pre-Save”!

BAIE geluk my Liefste Kind met hierdie ongelooflike mooi liedjie! Ek lief jou meer as ASEM!

…Sx