KWAZULU-NATAL. – Drie veiligheidswagte verbonde aan ‘n taxi-organisasie verskyn vandag in die hof ná ’n voorval wat op video vasgelê is en wyd versprei is. ‘n E-taxibestuurder is glo Woensdagoggend deur veiligheidswagte gekonfronteer, aangerand en daar is op sy voertuig se bande geskiet.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Woensdagoggend plaasgevind, waarna die veiligheidswagte op aanklagte van poging tot moord, aanranding en kwaadwillige beskadiging van eiendom deur KwaNdengezi-polisiebeamptes in hegtenis geneem is.
Volgens inligting het die bestuurder glo passasiers in die MR518-pad opgelaai toe hy deur twee veiligheidsvoertuie voorgekeer is. Hy het daarin geslaag om weg te ry, maar is na bewering agtervolg en sy voertuig is deur een van die veiligheidsvoertuie gestamp totdat dit tot stilstand gekom het. Een van die bande van die voertuig is glo raakgeskiet, terwyl die bestuurder na bewering deur die ander veiligheidswagte aangerand is. Polisiebeamptes wat in die omgewing was, het ingegryp en die bestuurder van sy aanvallers gered.
Die polisie het Donderdag met verteenwoordigers van die betrokke taxi-organisasie in verbinding getree, waarna die veiligheidswagte aan owerhede oorhandig is. Drie vuurwapens is gekonfiskeer en sal vir ballistiese toetse gestuur word, terwyl ondersoeke oor die betrokke veiligheidsmaatskappy gedoen word.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings in die provinsie, het ‘n ondersoek gelas nadat die video aan die lig gekom het. Buiten die bestuurder wat glo aangeval is, is vroulike passasiers na bewering geïntimideer en geteister. Die veiligheidwagte het glo vir die bestuurder beveel om die passasiers af te laai.
‘n Video van die voorval, wat wyd versprei word, wys glo veiligheidswagte wat met vuurwapens optree tydens die konfrontasie. Duma sê die aanval word ten sterkste veroordeel en dat sy departement reeds ’n span in samewerking met die polisie en metropolisie aangewys het om die saak te ondersoek.
Die departement het ook ’n beroep op die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) gedoen om die optrede van die veiligheidswagte te ondersoek vir moontlike oortredings van die toepaslike wetgewing.





