MPUMALANGA. – Drie verdagtes is Woensdagoggend in Emalahleni (Witbank) dood nadat ’n gewapende roof by ’n juwelierswinkel in Highveld Mall in ‘n skietery geëindig het.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê ongeveer agt gewapende verdagtes het omstreeks 10:00 die winkel binnegestorm, die veiligheidswag en ’n werknemer met vuurwapens aangehou en ’n onbekende hoeveelheid juweliersware gebuit, voordat hulle in verskillende voertuie gevlug het. Die polisie en private veiligheidsdienste is vinnig ingelig en het die verdagtes kort ná die voorval buite die winkelsentrum onderskep. ’n Skietery het uitgebreek waartydens drie verdagtes noodlottig gewond is, terwyl die res van die groep gevlug het.
Drie vuurwapens, ’n geweer en ammunisie is op die toneel gevind en in beslag geneem. ’n Toyota RAV4 met vervalste registrasienommers, wat vermoedelik as ’n wegkomvoertuig gebruik is, is ook gekonfiskeer. ’n Deel van die gesteelde juweliersware is in die voertuig gevind.
Die oorblywende verdagtes word steeds gesoek. ’n Saak van gewapende roof is geopen, terwyl Opod die omstandighede van die sterftes ondersoek. Enigiemand met relevante inligting oor die verdagtes word gevra om na vore te kom.



