Kyk meer foto’s in berig.
KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou, in haar 50’s, het Woensdagmiddag in ‘n ernstige ongeluk met verskeie voertuie op die M7 in die rigting van die Bluff naby die N2-kruising gesterf. ‘n Vragmotor het glo beheer verloor en met ongeveer vier ligte motorvoertuie gebots.
Volgens Garrith Jamieson van ALS Paramedics het ’n vragmotor, wat vermoedelik koper vervoer het, beheer verloor en teen minstens vier voertuie gebots voordat dit op ’n ligte motorvoertuig omgeslaan het. Twee mense, insluitend die vragmotorbestuurder en die bestuurder van die voertuig waarop die vragmotor beland het, was vasgekeer. Die Ethekwini-brandweer het die vragmotorbestuurder met behulp van reddingskake bevry. Hy is met ligte beserings hospitaal toe geneem. Die vrou is op die toneel dood verklaar. Die M7 in die Durban-rigting was vir ure gesluit terwyl nooddienste op die toneel gewerk het.
Jamieson sê die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.









