KWAZULU-NATAL. – AO Vincent Mkhize (46), gestasioneer by Umlazi-misdaadvoorkomingseenheid, is vir die moord op Ayanda Gift Mkhize (25), sy seun, skuldig bevind nadat hy hom vir ‘n inbreker aangesien en doodgeskiet het.
Phaladi Shuping, woordvoerder vir die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat, sê in ‘n verklaring die voorval het op 28 Desember 2022 omstreeks 01:00 by die polisiebeampte, wat van diens af was, se huis gebeur. Hy het ‘n geraas by die voordeur gehoor wat geklink het of iemand met die veiligheidshek peuter en het sy dienspistool geneem om ondersoek in te stel. By die opening van die voordeur het hy ’n persoon by die veiligheidshek opgemerk en twee skote geskiet. Die persoon het geskree en homself as sy seun bekend gemaak. Mkhize en sy vrou, wat ’n verpleegster is, het noodhulp verleen voordat hulle hul gewonde seun na die Isipingo-hospitaal geneem het, waar hy later aan sy beserings beswyk het.
Opod het die ondersoek gelei en die saak na die NVG verwys. Die NVG het aanbeveel dat AO Mkhize van moord aangekla word. Hy is deur Chatsworth-landdroshof skuldig bevind. Die saak is vir vonnisoplegging tot 2 Desember uitgestel en Mkhize se borgtog is verleng.