Brekende Nuus
Nuus

Leerlinge herleef Emily Hobhouse se begrafnis 100 j. later

Foto's: Sekondêre Meisieskool Oranje en Zita Filmz

Meer foto’s in berig.

VRYSTAAT. – Altesaam 154 verteenwoordigers van Hoërskool Eunice en 103 van die Sekondêre Meisieskool Oranje het verlede Saterdag deel gevorm van ’n besondere historiese herdenking toe die staatsbegrafnis van Emily Hobhouse 100 jaar later by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein opgevoer is. Die Sekondêre Meisieskool Oranje het ’n besondere verbintenis met Hobhouse – 100 Oranje-leerlinge het in 1926 aan haar oorspronklike begrafnisstoet deelgeneem.

Meer as 650 deelnemers het aan Saterdag se optog deelgeneem, wat die geskiedkundige gebeurtenis van 1926 opnuut tot lewe gebring het. Hobhouse se opheffingswerk onder vroue en kinders ná die Anglo-Boereoorlog het bygedra tot die droom om ’n skool te stig waar kinders wat deur die oorlog geraak is, opgevoed kon word. Hobhouse het dié droom saam met Rachel en MT Steyn op hul plaas Onze Rust bespreek, wat uiteindelik deel van Oranje se stigtingsgeskiedenis geword het. Oranje hou steeds dié band lewend en lê sedert 1927 jaarliks tydens haar verjaardagviering ’n krans by haar graf aan die voet van die Vrouemonument. Die skool het tydens die herdenking in wit rokke en sluiers met palmtakke die historiese begrafnisstoet laat herleef.

Die opvoering het leerlinge, koorlede, personeel, perde, ou motors en toeskouers byeengebring om hulde te bring aan Hobhouse se nalatenskap as humanitêre werker. Hoërskool Eunice het Donderdag in ‘n sosialemediaplasing gesê dit was ’n besondere voorreg om deel van die herdenking te wees. Die skool se koor, leerlinge en personeel het aan die optog deelgeneem. Besoekers kon ook tradisionele kos en historiese uitstallings by die geleentheid geniet. Die skool het spesiale erkenning gegee aan die historikus Elsabé Brits en geleentheidsorganiseerder Karen Meiring vir hul werk om die projek moontlik te maak en Eunice se deelname te verseker. Die geleentheid, “We Remember Emily Hobhouse”, is deur The Story of Emily Museum in Cornwall georganiseer en geborg.

Hobhouse het tydens die Anglo-Boereoorlog die haglike omstandighede van vroue en kinders in Britse konsentrasiekampe onder die aandag van die wêreld gebring. Sy is op 8 Junie 1926 in Engeland oorlede. Haar as is later in ’n nis aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein geplaas. Haar staatsbegrafnis op 27 Oktober 1926 was die eerste staatsbegrafnis vir ’n vrou in Suid-Afrika en ook die eerste vir ’n buitelander.

Fotokrediet: Zita Filmz – Bronne: Hoërskool Eunice, Anglo Boer War Museum, South African History Online, The Story of Emily, Sekondêre Meisieskool Oranje