GAUTENG. – Vier lessenaars en twee stoele is Dinsdag by Eastbank High School in Alexandra aan die brand gesteek. Dit het tot ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging en dissiplinêre optrede teen geïdentifiseerde leerlinge gelei. Na bewering is die meubels aan die brand gesteek omdat leerlinge koud gekry het as gevolg van stukkende vensters.
Onwabile Lubhelwana, woordvoerder van Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir die departement van onderwys, sê die departement veroordeel die vernietiging van skoolinfrastruktuur en meubels, veral omdat die skool reeds onder groot kapasiteit en ‘n tekort aan meubels gebuk gaan. Die skool is ontwerp vir sowat 1 200 leerlinge, maar het tans 2 063 – dit is 863 meer as waarvoor die infrastruktuur bedoel is. Daar is ook ’n tekort van sowat 1 200 lessenaars en 600 stoele. Vanjaar is reeds 1 000 stoele en 150 lessenaars aan die skool gelewer, maar aansienlike tekorte bly bestaan.
Die departement het kennis geneem van bewerings dat die meubels aan die brand gesteek is omdat leerlinge koud gekry het weens stukkende vensters. Volgens die departement is al die vensters egter verlede jaar herstel. Sowat 60 vensters benodig nou weer herstelwerk ná onlangse skade, terwyl agt deure ook herstel moet word.
’n Beroep is deur die departement op skoolbeheerliggame gedoen om hul verantwoordelikhede rakende begrotings en instandhouding na te kom. Die ontwrigting van onderrig en leer is verder veroordeel. Verder doen die departement ’n beroep op ouers, leerlinge, opvoeders, beheerliggame en gemeenskappe om saam teen die vernietiging van onderwysinfrastruktuur op te tree. Die polisie ondersoek die saak, terwyl die skool se dissiplinêre proses teen leerlinge wat met die voorval verbind word, sal voortgaan.
Die skoolgemeenskap treur intussen oor die dood van ’n gewilde opvoeder wat leerlinge akademies en maatskaplik ondersteun het en ook rugby en krieket afgerig het. Berading en ondersteuning is vir leerlinge en personeel beskikbaar gestel.


