NOORDWES. – Drie mense, onder wie twee jong leerlinge van Laerskool Roshunville, het op 20 Mei gesterf nadat die voertuig waarin hulle gery het met ‘n bakkie gebots het. Die ongeluk het op die pad tussen Schweizer-Reneke en Amalia plaasgevind. Die leerlinge is deur die skool as Reaotshepa Seleko en Boitsemang Larona geïdentifiseer.
Vuyo Mantshule, woordvoerder vir die departement van onderwys in die provinsie, sê Saterdag in ‘n verklaring die leerlinge in gr. R- en gr. 5 was pas klaar met ekstra klasse en was op pad huis toe, toe die noodlottige ongeluk plaasgevind het. Die bestuurder van ‘n voertuig het ook gesterf. ‘n Ouer en nog ‘n leerling is met ernstige beserings in ‘n hospitaal opgeneem.
Viola Motsumi, die plaaslike LUR vir onderwys, het haar medelye teenoor die gesinne van die oorledenes uitgespreek. Motsumi het die publiek dringend gevra om vir die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik te bid oor die toenemende aantal padongelukke waarin leerlinge betrokke is. Sy het verwys na die leerlinge van Hoërskool Vryburg wat verlede maand in ‘n soortgelyke ongeluk omgekom het – ‘n herinnering dat hierdie tragedie nie ‘n geïsoleerde geval is nie. Reëlings vir die herdenkingsdiens en begrafnis is nog nie gefinaliseer nie.






