KWAZULU-NATAL. – ‘n Ma (22) is deur die Madadeni-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis, nadat sy skuldig gepleit het vir die moord op haar baba (1) in Osizweni in Oktober verlede jaar. Sy het nadat die baba dood is nog voorgegee dat alles reg is en die baba se doek geruil.
Natasha Ramkisson, NVG-woordvoerder, sê die voorval het op 12 Oktober 2025 by die baba se ouerhuis plaasgevind. Die baba was saam met haar ouers tuis toe die pa in ’n stadium die huis verlaat het en die ma alleen met die kind agtergelaat het. Toe hy later terugkeer, het hy die beskuldigde met die baba in haar arms aangetref, maar opgemerk dat die kind nie beweeg nie. Selfs toe die ma die baba se doek omruil, het die kind geen reaksie getoon nie. Die ma het daarna aangedui dat sy met die baba wou uitgaan, maar die pa het daarop aangedring dat sy eers die kind moet wakker maak. Toe die baba steeds nie reageer nie, het die pa ’n buurman gaan roep wat bevestig het dat die baba waarskynlik reeds oorlede is. Paramedici en die polisie is ontbied en die baba is op die toneel dood verklaar. Die ma is kort daarna in hegtenis geneem.
’n Nadoodse ondersoek het later bevestig dat die baba aan versmoring dood is. In die hof het die beskuldigde erken dat sy die kind vermoor het ná ’n argument met die baba se pa. Volgens die NVG het die staat tydens vonnisoplegging aangevoer dat die beskuldigde ander opsies gehad het, soos om die kind aan maatskaplike dienste oor te gee of vir aanneming beskikbaar te stel, eerder as om geweld te gebruik. Die baba se pa het ook in die hof getuig en gesê die voorval het hom diep getraumatiseer en dat hy sedertdien sukkel om vroue te vertrou.
Benewens die lewenslange tronkstraf is die vrou ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.





