OOS-KAAP. – Zamikhaya Jonase (30) van Lesotho is vir die verkragting van twee bejaarde vroue, 80 en 91 jaar oud, in afsonderlike voorvalle, deur die Sterkspruit-streekhof tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.
Volgens brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, het die eerste aanval in Augustus 2016 plaasgevind toe ’n 80-jarige vrou in haar huis oorrompel en verkrag is. In ’n tweede voorval in 2023 is ’n 91-jarige vrou ook in haar woning aangerand en verkrag. Die beskuldigde is later met behulp van DNS-bewyse aan beide sake verbind terwyl hy reeds in aanhouding was vir ander sake. Hy het in Augustus 2025 in die hof verskyn en borgtog is geweier tot sy skuldigbevinding.
Lt.genl. Vuyisile Ncata, die provinsiale kommissaris, het die ondersoekspan geprys vir hul deeglike werk en gesê die saak toon dat misdadigers selfs jare na ‘n misdaad nie aan die reg kan ontsnap nie.





