OOS-KAAP. – Die polisie doen ’n dringende beroep op die publiek vir hulp nadat die koplose liggaam van ’n onbekende vrou in ’n veld agter die Andries Vosloo-hospitaal in Zwelitsha ontdek is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Nobuntu Gantana, sê ’n lid van die publiek het Maandag omstreeks 17:40 op die grusame ontdekking afgekom, terwyl hout in die gebied versamel is. Polisiebeamptes is na die toneel ontbied waar hulle die koplose liggaam van ’n vrou in die veld aangetref het. Die kop is ’n kort afstand verder in water gevind. Die oorledene was ten volle geklee en haar identiteit is nog onbekend. Tot dusver is geen saak van ‘n vermiste persoon by Kwanojoli of omliggende polisiekantore aangemeld wat met haar beskrywing ooreenstem nie.
Die polisie het ’n moordondersoek van stapel gestuur en sê geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie. Hulle vra enigiemand met inligting oor die voorval, of oor ’n vrou wat sedert middel tot laat Mei vermis word, om na vore te kom. Lede van die gemeenskap wat op 25 Mei in die omgewing van die hospitaal was en iets verdags opgemerk het, word ook versoek om die ondersoekers te kontak. Enige relevante inligting kan aan die naaste polisiekantoor gegee word.





