Die sangeres Liza Nel is terug met ‘n nuwe enkelsnit, Bottel en Bêre, wat handel oor die verlange om die mooiste herinneringe van die lewe vas te vang en vir altyd te bewaar. Die lied volg op haar vorige uitreikings My Bok, Rooi en Moes Maar Ek Moenie.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê Liza beskryf die enkelsnit as haar beste werk tot dusver. Die oorspronklike idee vir die lied is saam met Emil Paul ontwikkel, maar sy het oor ‘n paar jaar aan die lirieke en melodie geskaaf totdat dit die emosionele diepte bereik het waarna sy gesoek het. Die musiekvideo is deur Hendri Fourie vervaardig. Volgens Liza het hy haar visie vir die video presies vasgevang en die emosionele verhaal op die skerm lewendig gemaak.
Volgens Liza is die inspirasie vir die lied in haar kinderdae gewortel. Sy onthou hoe haar oumagrootjie en oumas vrugte en ander produkte ingelê en gebottel het om dit te bewaar. Dit het haar laat wonder hoe wonderlik dit sou wees as mense ook kosbare herinneringe kon “bottel en bêre” om dit later weer te beleef. Die lied is ook besonders omdat haar man, Ricus Nel – ‘n kunstenaar in eie reg – vir die eerste keer die vervaardiging daarvan behartig het. Liza sê sy wou nog altyd saam met hom aan ‘n musiekprojek werk en glo hy het ‘n vars, moderne klank geskep wat die nostalgiese tema van die lied perfek aanvul. Sy is oortuig dat Bottel en Bêre by luisteraars van alle ouderdomme aanklank sal vind omdat feitlik almal soms verlang na ‘n spesiale oomblik wat hulle graag weer sou wou ervaar.
Liza is van mening die enkelsnit onderskei hom van haar vorige werk deur die kombinasie van ‘n moderne produksie met ‘n tydlose, nostalgiese boodskap. Sy glo die lied herinner mense daaraan om die klein, kosbare oomblikke van die lewe te waardeer en vir altyd in hul harte te bewaar.
Kry Bottel en Bêre hier op alle stromingsdienste.





