OKLAHOMA, VSA. – Locklynn McGuire (2) is in November 2025 deur ’n hond in haar slaapkamer doodgebyt. Volgens die klagstaat was Locklynn in die kamer saam met Ella, ’n pitbull wat volgens ondersoekers sowat 12 dae tevore reeds die kind aangeval en ernstig beseer het. Die strafsaak teen haar ouers, Darci Lambert (25) en Jorden McQuire (35), kom nou weer in September in die hof voor.
Volgens Law and Crime staan Locklynn se ouers tereg op aanklagte van eerstegraadse moord, alternatiewelik tweedegraadse moord, asook vyf aanklagte van dieremishandeling. Hulle is aangekla, maar nog nie skuldig bevind nie.
Die polisie is op 18 November 2025 omstreeks 23:30 na die gesin se woning ontbied nadat Lambert ’n noodoproep gemaak het en gesê het Locklynn haal nie asem nie. Beamptes het die kind dood in haar slaapkamer aangetref met beserings wat volgens die polisie met bytmerke van ‘n hond ooreenstem. Die aanklaers beweer dat die hond ná ‘n eerste aanvanklike aanval steeds saam met Locklynn in die slaapkamer gehou is. Die deur het volgens die klagstaat ook kinderslotte aan beide kante gehad, wat verhoed het dat die kleuter self uit die kamer kon gaan.
McGuire het die kind volgens die ondersoek omstreeks 19:30 in die bed gesit. Hy het aan ondersoekers gesê hy het later medikasie geneem om te slaap en omstreeks 20:45 na haar gaan kyk. Lambert was volgens die verklaring by die werk en het omstreeks 22:30 by die huis aangekom. Sy het later die nooddienste gebel.
Vier honde is ná die voorval deur dierewelsynsbeamptes verwyder. Volgens die polisie het drie van die honde tekens van ondervoeding getoon – Ella se heupbene was sigbaar. Die aanklaers voer aan die ouers het geweet daar is ’n risiko dat die hond weer kan aanval, maar die kind nie voldoende teen verdere gevaar beskerm het nie. Die Oklahoma County-distriksprokureur se kantoor het die aanklagte in Desember 2025 tot eerstegraadse moord opgegradeer.
’n Hofverskyning wat aanvanklik vir Julie geskeduleer was, is uitgestel en die saak kom nou weer in September voor.
Bron: Office of Juvenile System Oversight, Law and Crime, International Business times, FOX 25, US Weekly