GAUTENG. – ’n 59-jarige senior polisiebeampte wat die rang van luitenant-generaal beklee, is Maandag op aanklagte wat verband hou met seksuele misdrywe in hegtenis geneem. Hy word daarvan beskuldig dat hy tussen Julie en Augustus ’n 16-jarige meisie seksueel voorberei het en in Mei ’n 18-jarige vrou by ’n hotel in Sandton verkrag het. Hy sal na verwagting vandag in die Randburg-landdroshof verskyn.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisneming is deur lede van die kommissie- aanbevelingstaakspan uitgevoer.
Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom en die beweerde optrede ten sterkste veroordeel. Dimpane het beklemtoon dat polisiebeamptes ’n besondere verantwoordelikheid het om vroue en kinders teen geweld, mishandeling en uitbuiting te beskerm. Volgens haar moet die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord ook binne die polisie met aanspreeklikheid gepaardgaan en rang of senioriteit mag niemand bo die wet plaas nie.