GAUTENG. – Matome Chiloane, LUR vir die Gautengse onderwysdepartement (GDE), hou vandag ’n vergadering met diensverskaffers van leerlingvervoer om ’n weg vorentoe te bepaal en die hindernisse tussen die departement en verskaffers op te los. Die vergadering volg op probleme in die GDE-leerlingvervoerprogram, wat op 2 Februarie 2026 daartoe gelei het dat sommige verskaffers hul dienste gestaak het en sommige leerlinge nie skole kon bywoon nie.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê daar word aktief daaraan gewerk om uitstaande betalings af te handel en het verskaffers versoek om ononderbroke vervoer voort te sit. Die LUR, Chiloane, sal die publiek oor die uitkoms van die vergadering inlig.
Skole is gevra om maatreëls toe te pas om verlies aan klasbywoning te beperk en onderrig op koers te hou. Veiligheid, toegang tot onderwys en die welsyn van leerlinge bly die hoogste prioriteit.
Die vergadering vind om 13:30 plaas by die GDE-hoofkantoor, in Simmondsstraat, Marshalltown, Johannesburg.





