GAUTENG. – ’n Ma se poging om haar 34-jarige seun aan ’n moontlike meisie voor te stel, het op sosiale media aandag getrek nadat sy hom sommer op Facebook “geadverteer” het. Amanda Brand het darem later aan haar 34-jarige seun vertel sy het dit gedoen.
Brand het op die Montana en noord van die berg Pretoria gemeenskap se Facebook-blad geskryf dat sy ’n “pragtige seun” het wat waarskynlik nie baie gelukkig gaan wees wanneer hy die plasing sien nie. Volgens haar is hy 34 jaar oud en van Pretoria, waar hy in besigheidsintelligensie werk. Sy beskryf hom as ’n Christen wat nie ’n partytjiedier is nie, hard werk en nie baie uitkom nie. ’n Lekker kuier is egter volgens haar glad nie vir hom ’n probleem nie, terwyl hy ook oor ’n “wicked sense of humour” beskik.
Brand het ander ma’s genooi om haar privaat te kontak indien hulle ’n dogter het wat moontlik met haar seun oor die weg sal kom. “DM my dan konkel ons agter die kinders se rug,” het sy geskerts. Sy het later bygevoeg dat sy haar seun wel van die plasing vertel het en dat hy dit glo met ‘n goeie gesindheid opgeneem het en lekker gelag het.
