WES-KAAP. – ’n 25-jarige e-taxibestuurder is na bewering Saterdag deur twee vroue en drie mans ontvoer en verkrag. Die Steenberg-polisie het die man opgespoor en die verdagtes in hegtenis geneem.
Volgens die polisie het die slagoffer se broer gesê die verdagtes het R4 000 vir die slagoffer se vrylating geëis. Die polisie het hom deur middel van sy voertuig se opsporingstelsel in Southamptonweg in Heathfield gevind. Twee vroue, onderskeidelik 23 en 34 jaar oud, asook drie mans van 16, 42 en 48 jaar, is in hegtenis geneem. Die slagoffer het een van die vroue deur sy werk ontmoet, waarna hulle kontak behou het en ooreengestem het om mekaar Saterdag te ontmoet. Die misdaad is tydens dié ontmoeting gepleeg.
Die vyf verdagtes sal na verwagting Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn.