NOORWEË. – ’n Persoon is beboet omdat hy ’n mishoring gebruik het om ’n slapende ysbeer in Noorweë se Svalbard-argipel wakker te maak, het ’n plaaslike amptenaar gesê.
Volgens Firstpost se plasing op Facebook het die voorval vroeër vandeesmaand plaasgevind nadat iemand die mishoring aan boord van ’n vaartuig laat loei het toe dit deur ’n fjord in die noordweste van Svalbard gevaar het.
Die persoon – wie se naam nie bekend gemaak is nie – is met 50 000 Noorse kroon (sowat R85 400) beboet vir die voorval, het die goewerneur van die gebied bevestig.
Volgens plaaslike regulasies in die streek is dit “verbode om ’n ysbeer onnodig te steur, te lok of te agtervolg”. Ysbere is in 1972 in Svalbard tot ’n beskermde spesie verklaar. Ongeveer 250 ysbere is tydens die laaste wetenskaplike skatting in die argipel getel.
WTol11 het berig goewerneur Lars Fause het in ’n verklaring gesê die mense aan boord van die vaartuig, het “na bewering ’n ysbeer op land sien slaap” toe dit verby die dier gevaar het.
“’n Persoon aan boord het toe die skip se mishoring gebruik, wat die dier wakker gemaak het. Die ysbeer het daarna na ’n ander plek beweeg.”
Die persoon het ingestem om die boete te betaal.
Bronne: WTol11, Firstpost Facebook


