KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (56) is Maandag dood en ’n vrou ernstig gewond toe hul voertuig glo op die R33 naby Crammond onder skoot gekom het.
Mi7 National Group sê in ‘n sosialemediaplasing dié diens se nood- mediese diens is kort voor 12:00 na die toneel van ‘n motorongeluk ontbied. Met aankoms het paramedici ’n voertuig aangetref wat van die pad af is en teen ’n wal tot stilstand gekom het, met verskeie koeëlgate sigbaar in die bakwerk. Die bestuurder is met verskeie skietwonde op die toneel dood verklaar. Sy 40-jarige vroulike passasier het ook skietwonde opgedoen en was in ’n ernstige toestand. Gevorderde lewensondersteuning is toegepas voordat sy na ’n hospitaal geneem is.
Volgens die vrou het ’n voertuig hulle genader terwyl hulle gery het, waarna daar op hulle geskiet is. Die voorval word deur die polisie ondersoek.





