MPUMALANGA. – Die polisie ondersoek die dood van ‘n 43-jarige man en sy 4-jarige nefie nadat hulle na bewering Woensdag koekies geëet het wat uit ‘n plaaslike spazawinkel op Witbank afkomstig was.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê twee geregtelike doodsondersoeke is geopen. Volgens die polisie het die eienaar van die spazawinkel, ‘n buitelandse burger, sy voorraad by die verhuurder se woning gestoor, nadat hy inligting ontvang het oor plundering van spazawinkels wat aan buitelanders behoort.
Die verhuurder het na bewering van die koekies geëet en dit ook met sy vierjarige nefie gedeel. Kort daarna het albei naar geword, duiselig gevoel en begin braak. Hulle is na ‘n plaaslike mediese fasiliteit geneem waar hulle met hul aankoms dood verklaar is.
Die polisie sê nadoodse ondersoeke sal bepaal wat die oorsaak van die sterftes was en waar die koekies vandaan gekom het. Die polisie vra gemeenskappe om nie kos te eet wat tydens plundering bekom is nie, aangesien die veiligheid daarvan nie gewaarborg kan word nie.





