KWAZULU-NATAL. – Frikkie Kapp herstel goed nadat hy op 23 Maart deur die Oom C-Breez-boot by Sodwanabaai getref is. Kapp is ‘n oud-rugbyspeler en die winkeleienaar van Jud’sies wat gedurende Januarie 2023 onder ‘n petrolbom en skietery deurgeloop het.
Bino Etsebeth, die voorsitter van die Mynmanne Marine Association, sê in ‘n verklaring wat Vrydag uitgereik is die boot het omstreeks 14:20 die strand met Henk du Plessis agter die stuur bereik en het vir Kapp teen sy linkerskouer getref. Kapp het volgens die vereniging toesig gehou oor die strandbeheerspan en was besig om die spesifieke boot strand toe te begelei, toe hy besef het dit is op pad om hom te tref. Hy het probeer wegbeweeg, maar is steeds getref en het op die buitekant van die romp beland. Die manier waarop hy geval het, het egter verhoed dat hy onder die boot beland, wat volgens Etsebeth waarskynlik sy lewe gered het.
Omstanders en mediese personeel het onmiddellik hulp verleen, waarna hy na ’n noodhulpfasiliteit by Sodwanabaai geneem is, waar hy gestabiliseer is. Hy is daarna per helikopter na Durban vervoer vir verdere behandeling. Etsebeth sê Kapp, wat ook ’n lid van die organisasie se komitee is, herstel goed.






