Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) het sy teleurstelling uitgespreek nadat ’n man wat aangekla is oor ’n hond wat met ’n gewig om sy nek in die St Lucia-riviermond gegooi is, vrygeloop het.
Muzikayise Mhlongo het op 18 Junie 2026 in die landdroshof in Mtubatuba verskyn waar sy verhoor begin het.
Volgens die NSPCA het drie getuies tydens die Staat se saak getuig: die busbestuurder wat die voorval gesien het, die bootbestuurder wat die hond uit die water gered het en die veearts wat die hond ondersoek het.
Nadat die Staat sy saak gesluit het, is Mhlongo ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet 51 van 1977 ontslaan. Die saak is op 23 Julie afgehandel.
Hond van brug in St Lucia-riviermond gegooi
Die voorval het op 13 Maart by die Siyabonga Tourism Centre in St Lucia plaasgevind.
Volgens die NSPCA het ’n getuie gesien hoe ’n man ’n hond skop voordat hy die dier van ’n brug in die St Lucia-riviermond gegooi het. ’n Gewig was met ’n blou-en-wit tou om die hond se nek vasgebind.
’n Bootoperateur by die Siyabonga Jetty het die hond in die water sien spartel en hom uitgehaal.
Die hond, wat later Siyabonga genoem is, is vir ’n veeartsenykundige ondersoek geneem. Hy het beserings gehad wat met ’n hou teen die kop ooreengestem het, asook tekens van verwaarlosing en vorige trauma.
NSPCA diep teleurgesteld oor uitkoms
Jacques Peacock, kommunikasiebestuurder van die NSPCA, sê die organisasie respekteer die regsproses, maar is diep teleurgesteld oor die uitkoms.
“Not only did the NSPCA track the suspect and provide the information to the prosecuting authority, but the case was supported by direct eyewitness testimony,” het Peacock gesê.
Volgens hom is die saak ook ondersteun deur getuienis van die persoon wat Siyabonga gered het en die veearts wat hom ondersoek het.
Die NSPCA sê die uitslag laat vrae ontstaan oor hoe sake van dieremishandeling vervolg en getuienis in die hof aangebied word.
Siyabonga herstel goed
Siyabonga het intussen goed herstel.
Hy het veeartsenykundige behandeling ontvang en is ingeënt en gesteriliseer. Volgens die NSPCA bly hy op ’n veilige plek waar hy onder die sorg van ’n NSPCA-inspekteur is.
Die organisasie sê hy sal voortgaan om sake van dieremishandeling te ondersoek en saam met die vervolgingsgesag te werk om te verseker dat getuienis wat deur inspekteurs versamel word, doeltreffend in die hof aangebied word.
Die NSPCA is die afgelope maande ook op ander fronte aktief. Die organisasie het hom vroeër vanjaar teen die lewende uitvoer van diere per see verset en het ondersoek ingestel nadat sowat 50 beeste weens koue gevrek het.
Bron: NSPCA