GAUTENG. – ’n 34-jarige man is met pepersproei en bakstene aangeval en daarna met ’n tou vasgebind toe vyf gemaskerde mans Donderdag kort ná middernag by sy woning op ‘n kleinhoewe in Bultfontein, Hammanskraal, ingebreek het. Die verdagtes het met eiendom ter waarde van sowat R15 000 weggekom.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits volgens die polisie se inligting het die man net ná middernag van geluide buite wakker geword. Met ondersoek het hy vyf mans aangetref, van wie een besig was om die diefweringdeur met ’n boutsnyer oop te sny. Hulle is die huis in en het die man met pepersproei gespuit en met bakstene teen die kop geslaan, waarna hy geval het. Hulle het sy hande met ’n tou vasgebind en ‘n mussie oor sy kop gesit waarna hulle onder meer met ’n geiser, elektriese stoof, sewe nuwe houtdeure, twee nuwe hekke, kruideniersware, ’n klein slypmasjien, heksleutels, ’n kruiwa en elektriese drade van die hoofskakelaar op die vlug geslaan het.
Die man het ’n voertuig hoor wegtrek en is na bure om hulp te vra. Die verdagtes is nog onbekend.