LIMPOPO. – ’n Man is Saterdag 8 Augustus op ’n plaas in Tshamutumbu in die Vhembe-distrik deur vier gewapende verdagtes gekaap en daarna in sy eie Land Cruiser ontvoer.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die man was omstreeks 11:30 op die plaas besig toe die vier verdagtes hom genader het. Hulle was na bewering met ’n vuurwapen en ’n mes gewapen en het sy Land Cruiser geëis. Die verdagtes het die man glo gedwing om agter in die voertuig te klim en sy gesig te bedek, voordat hulle met hom weggejaag het. Hy is later op ’n ander plaas naby die Limpoporivier afgelaai, waarna die verdagtes met sy voertuig weggejaag het. Die voertuig, ’n wit Toyota Land Cruiser ter waarde van sowat R700 000, is later verlate in die middel van die Limpoporivier sonder die battery en noodwiel gevind.
‘n Ondersoek na die insident is aan die gang. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die verdagtes om sers. Manyaga Freddie by 082 565 7907 te bel.






