KWAZULU-NATAL. – ‘n Man is Maandagoggend dood nadat ’n munisipale watertenkwa in Wyk 96 in eMbumbulu, Adams Mission in ’n noodlottige voorval betrokke was.
‘n Span van die eThekwini-munisipaliteit is na Adams Mission ontplooi om die oorledene se familie te besoek en die nodige ondersteuning te bied. Die munisipaliteit het sy medelye aan die familie, vriende en gemeenskap betuig.
Die polisie het ’n saak geopen en ’n ondersoek is aan die gang. Intussen het die munisipaliteit ook sy eie interne prosesse begin en sê hy werk ten volle met die polisie saam. Weens die ondersoek kan die munisipaliteit nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor die omstandighede wat tot die voorval gelei het nie.
In die video-opname kan gesien word hoe die watertenkwa terugstoot en dan vorentoe oor die slagoffer ry. Nadat die slagoffer onder die voorste wiel beland het, het die watertenkwa nie gestop nie en verder gery.
Die publiek word intussen versoek om uit respek vir die oorledene en sy familie nie beeldmateriaal van die voorval op sosiale media te versprei nie.





