NOORDWES. – ‘n Man (45) is in die Madikwe-streekhof tot ‘n totaal van 22 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, nadat hy sy tien maande oue babaseun wou doodmaak. Die baba se 69-jarige ouma is ernstig beseer toe sy tussenbeide getree het.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die aanval het op 4 Januarie 2024 in Tlokweng, naby Madikwe, plaasgevind. Die man het glo tydens ‘n rusie met die kind se ma die baba gegryp en op die grond neergegooi. Die kind het nie frakture opgedoen nie, maar die hof het bevind dat sy optrede die baba se lewe in gevaar gestel het.
Toe die ouma probeer ingryp om die kind te beskerm, het die man haar met ‘n stok aangeval. Sy het ernstige beserings opgedoen en albei haar arms is in die aanval gebreek. Die beskuldigde is op 6 Januarie 2024 in hegtenis geneem. Hy is borgtog geweier en het onskuldig gepleit, maar is uiteindelik skuldig bevind aan poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is tot 15 jaar tronkstraf vir poging tot moord en nog sewe jaar vir die aanranding gevonnis. Die hof het ook beslis dat hy nie bevoeg is om ‘n vuurwapen te besit nie.
Genl.maj. Ryno Naidoo, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekbeampte, speurder sers. McDonald Mosekwane, die vervolgingspan en almal wat tot die suksesvolle afhandeling van die saak bygedra het, geloof. Hy sê die vonnis beklemtoon dat geweld teen kinders en bejaardes nie geduld sal word nie en streng gestraf sal word.





