GAUTENG. – ’n 33-jarige man is Vrydag in Eldorado Park in hegtenis geneem nadat die polisie ’n 9 mm-vuurwapen, twee lewendige patrone, ’n magasyn en vermoedelik onwettig vervaardigde alkohol by sy woning gevind het.
Die arrestasie het gevolg op inligting wat ontvang is oor die beweerde onwettige vervaardiging en verkoop van alkohol in die Kliptown- en Eldorado Park-polisiëringsgebiede. Die polisie sê die verdagte is in hegtenis geneem nadat betroubare inligting ontvang is dat hy na bewering by die vervaardiging en verspreiding van onwettige alkohol betrokke was. Verdere inligting het daarop gedui dat hy glo ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy besit gehad het.
Polisielede het op die adres toegeslaan en die vuurwapen, ammunisie, vermoedelik onwettige alkohol en verpakkingsmateriaal, wat moontlik met die vervaardiging en verspreiding daarvan verband hou, gevind.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn, terwyl die polisie se ondersoek voortduur.