AUSTRALIë. – Lachie Perrem (25), ‘n vakman van Perth, het om sy lewe geveg nadat ‘n robotstofsuier na bewering in sy woning ontplof en ‘n verwoestende brand veroorsaak het. Lachie Perrem het ernstige brandwonde aan sowat 75% van sy liggaam opgedoen.
Die ontploffing op 2 Julie by Perrem se woning in Brabham, ‘n voorstad van Perth, het groot skade aan die huis aangerig. Perrem, sy verloofde en hul huismaats is nou sonder ‘n woonplek. Owerhede ondersoek steeds die presiese oorsaak van die ontploffing, maar die robotstofsuier is as deel van die ondersoek vir forensiese ontleding gekonfiskeer.
Perrem se ma, Fiona, het intussen ‘n GoFundMe-veldtog begin om die gesin te help met mediese uitgawes, rehabilitasie, verblyf en ander finansiële verpligtinge terwyl hy herstel. Volgens die jongste inligting het Perrem reeds verskeie operasies ondergaan, uit ‘n geïnduseerde koma ontwaak en toon hy bemoedigende tekens van herstel.
Die familie sê Perrem het ‘n lang pad van behandeling en rehabilitasie wat voorlê.
Bronne: GoFundMe, ABC News Australia, The Guardian Australia, PerthNow





