LIMPOPO – Lunghani Mhlongo (30) van Dan Village in Tzaneen is deur die Polokwane-hooggeregshof tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Hope Nkuna, sy lewensmaat, en hulle agt maande oue baba. Die hof het hom 60 jaar opgelê vir twee aanklagte van moord, vyf jaar vir regsverydeling en sewe jaar vir brandstigting. Die vonnisse loop saam.
Mashudu Malabi, NVG-woordvoerder, sê Mhlongo is 60 jaar vir twee aanklagte van moord, vyf jaar vir regsverydeling en sewe jaar vir brandstigting opgelê, maar die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Mhlongo het skuldig gepleit.
Volgens hofstukke het ’n rusie op 15 September 2024 tot geweld gelei toe hy Nkuna aangerand het terwyl sy die baba op haar rug gedra het. Sy het teen ’n tafel gestamp en die kind is teen die kop getref. Mhlongo het haar daarna verwurg. Beide die ma en haar agt maande oue kind is dood.
Die hof het verder gehoor dat Mhlongo die huis waar die liggame was, aan die brand gesteek het in ’n poging om bewyse te vernietig nadat ’n familielid ’n sterk reuk uit die huis opgemerk het. Hy het van die toneel gevlug, maar is later in hegtenis geneem nadat die gemeenskap die polisie ontbied het.
Die nasionale vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.





