KWAZULU-NATAL. – ’n Voorval waarin ’n pitbull vroeg Donderdagoggend omstreeks 02:20 in Hoogstraat, in Grangetown, geskiet is, het tot twee teenstrydige weergawes van wat gebeur het, gelei.
Reaction Unit South Africa (Rusa) het twee sosialemediaplasings gemaak en verduidelik ’n inwoner het hulp ontbied nadat hy glo deur sy buurman se hond aangeval is, toe hy ’n geraas op sy erf ondersoek het. Die man het vermoed daar is indringers op sy perseel en het sy 9mm-vuurwapen by hom gehad.
Hy beweer die hond het hom aangeval nadat dit deur ’n heining toegang tot sy erf gekry het. Hy het glo in selfverdediging geskiet. Reaksiebeamptes het die beseerde hond by ’n heining aangetref en ’n leë patroondoppie op die toneel gekry. Volgens dié weergawe het die hond in die verlede ook voetgangers, ander diere en ’n troeteldier op die betrokke erf aangeval. Die hond se eienaar is van die voorval ingelig.
Die hond se familie betwis egter hierdie weergawe. Hulle het video-opname van sowat 10 minute aan Rusa oorhandig wat volgens hulle wys hoe die hond, Amy op ’n muur was toe sy geskiet is. Volgens die eienaars wys die beeldmateriaal nie enige aanval nie. Hulle meen die voorval kon spruit uit ’n gespanne verhouding tussen die bure. Amy is ná die voorval na die DBV geneem, waar sy van kant gemaak is. Sy het sewe klein hondjies van vyf weke oud agtergelaat.
Die voorval het groot emosie in die gemeenskap ontlok, terwyl die presiese omstandighede rondom die skietery steeds betwis word.
