KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (37) word vir ‘n beweerde poging tot moord, ontvoering en roof op sy vrou (34) gesoek.
Reaction Unit South Africa sê die klaagster het Sondag hulp gevra om haar man en twee makkers op te spoor.
Die klaagster het aan Rusa vertel haar man het haar op 13 Maart omstreeks 13:30 gekontak om te sê hy moet dokumente by ‘n prokureur gaan haal en sy moet saamgaan. Albei het in die klaagster se wit GWM gery wat deur die man bestuur is. By ‘n verlate plek in Amanzimtoti het ‘n ander verdagte glo die motordeur oopgemaak en die klaagster uit die voertuig gesleep. Haar man het beide haar selfone gehou. Die man wat die klaagster gesleep het, het haar met ‘n tou gewurg. Haar man het glo slegs toegekyk en gesê die verdagte moet gou maak.
Die klaagster het haar bewussyn verloor en in ‘n suikerplantasie in Ifafa wat ongeveer 45 km van Amanzimtoti is op die voorste sitplek van ‘n Opel Corsa wakker geword. Die voertuig behoort vermoedelik aan die man wat haar gewurg het. Haar man en ‘n derde verdagte was nie te bespeur nie. Die klaagster het die man gesmeek om haar lewe te spaar, maar sy is geïgnoreer. Hy het daarna glo ‘n oproep gemaak om iemand in te lig dat sy steeds lewe. Hy het vir haar gesê haar eie man is glo op pad. Hy het voorts gesê hy gaan sigarette koop. Sy het haar kans waargeneem, die deur oopgemaak en uit die bewegende motor gespring.
Sy het na drie mans wat langs die pad gestaan het, gevlug. Die mans se vroulike werkgewer het opgedaag en sy het die situasie verduidelik. Die man in die Opel Corsa het vir hulle gesê hy probeer haar help, maar het weggery toe wetstoepassers gebel is.
Rusa sê die klaagster se liggaam moes vermoedelik in ‘n suikerplantasie gegooi en gelos word.
Die werkgewer het haar selfoon aan die klaagster geleen om familie te bel, waarna sy huis toe geneem is. Sy is daarna na Durban geneem waar sy mediese hulp ontvang het.
Die klaagster het later gesien geld is van haar bankrekening oorgeplaas en nog ‘n kleiner bedrag is gedurende haar aanhouding per eWallet oorbetaal. Haar eie geld was volgens haar vermoedelik gebruik om haar dood te maak. Sy het die transaksienommer op haar foon gebêre en op die WhatsApp-profiel gesien dit behoort aan die man in die Opel Corsa. Sy het sedertdien glo verskeie stemboodskappe en oproepe van onbekende nommers gekry wat sê indien sy die saak sou aanmeld sy doodgemaak gaan word.
‘n Kriminele saak is by Amanzimtoti-polisie aanhangig gemaak. (MAS 126/03/2024).
Die verdagtes vlug tans vir die polisie. Die ondersoekbeampte in die saak het glo in ‘n poging om die verdagtes op te spoor vir Rusa gevra om die inligting te versprei. Toestemming vir die gebruik van die foto’s op Rusa se sosiale media is glo deur die slagoffer en ondersoekbeampte gegee. Die verdagtes word as gevaarlik bestempel en moenie genader word nie.
Rusa vra enigiemand met inligting om 086 1234 333 te bel. Inligting sal vertroulik hanteer word.
Die klaagster se wit GWM C10 is intussen Sondag in ‘n verlate landelike gebied opgespoor by ‘n plaashuis wat glo aan een van die verdagtes se meisies behoort. Daar word steeds na die klaagster se man (37), ‘n tweede verdagte wat glo ‘n veroordeelde moordenaar is, en nog ‘n verdagte gesoek.
Rusa sê sensitiewe inligting van die verdagtes word weerhou.




