NOORD-KAAP. – Twee mans is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die dood van Temarion Christians (13) van Warrenvale in Warrenton en staan op aanklagte van huisroof en moord tereg. Die seun se ouers het die polisie ontbied nadat sy liggaam Saterdagmiddag in die sitkamer van hulle huis ontdek is.
Luidens ‘n verklaring van kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, is die seun se liggaam omstreeks 14:30 gevind. ’n Nadoodse ondersoek is reeds gedoen om die oorsaak van dood te bepaal, maar die uitslae is nog hangende en sal deel vorm van die voortgesette ondersoek. Volgens die polisie het verdere ondersoek ook aan die lig gebring dat eiendom glo uit die woning gesteel is. Speurders het later die vermoedelik gesteelde items opgespoor en teruggekry.
Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, het speurders van die provinsiale opsporingspan en misdaadintelligensie in Jan Kempdorp geloof vir hul volharding en vinnige optrede wat tot die arrestasies gelei het. Sy het bygevoeg dat misdade teen vroue en kinders steeds ’n prioriteit vir die polisie bly.
Lisa Schickerling van die DA in die Noord-Kaap sê sy het saam met die jong seun se ma gehuil. Hy het onwetend op vermeende huisrowers afgekom wat glo items gebuit het vir dwelmgeld. Hy was by sy ouma terwyl sy ma in die dorp was en toe dit begin reën, het sy hom glo gevra om die huis se vensters te gaan toemaak.
Schickerling sê: “Dertienjarige Temarion Christians van Warrenvale in Warrenton het gister by sy huis aangekom en onwetend ’n huisroof onderbreek. Wat daarna gebeur het, is iets wat geen kind, geen familie en geen gemeenskap ooit behoort te beleef nie. Vandag het ek sy familie besoek. Hulle is verpletter. ’n Ma sit met ondraaglike vrae. ’n Ouma dra ’n ondenkbare pyn. Ek het saam met ’n ma gehuil wie se sagte, stil seun, ’n kind wat nie ’n vlieg sou seermaak nie, wreed in sy eie huis vermoor is. Hy was by sy ouma terwyl sy ma in die dorp was. Toe die reën begin val, het sy hom gevra om gou huis toe te gaan om die vensters toe te maak. Hy het nooit teruggekom nie. Alles vir ’n paar items wat vir dwelmgeld verkoop kon word. ’n Jong lewe, vol belofte, is so sinneloos geneem. Warrenvale is seergemaak. Ons mense is moeg. Ons families verdien om veilig in hul eie huise te voel. Temarion het verdien om groot te word. Hy het ’n toekoms verdien. Vanaand hou ons hierdie familie in ons gebede. Ons staan saam met hulle in hul rou. En ons sê dit duidelik: ons kinders moet beskerm word. Ons gemeenskappe kan nie aanhou leef asof hulle beleër word nie. Rus sag, Temarion.”
‘n Plasing op die Magareng Mayor – Neo Mase Facebook-blad sê: “Ouma Amos, die wykraadslid het intussen saam met die polisie ’n sigbare veiligheidsinisiatief in die gebied gelei in ’n poging om veiligheid in die buurt te versterk. Volgens Amos het gemeenskapslede en die polisie ’n deur-tot-deur-besoek in sekere dele van Warrenvale gedoen waar daar vermoed word dat dwelms onwettig verkoop word. Die aksie was daarop gemik om ’n sterk boodskap uit te stuur dat onwettige aktiwiteite wat jongmense in gevaar stel, nie langer in die gemeenskap geduld sal word nie. Inwoners word aangemoedig om saam met die polisie te werk deur verdagte aktiwiteite aan te meld en inligting te deel wat kan help om misdaad te bekamp.”
Amos het egter beklemtoon dat mense nie die reg in eie hande moet neem nie en dat enige inligting eerder met die polisie gedeel moet word. Sy sê die gemeenskap moet saamstaan om te verseker dat Warrenvale ’n veilige plek vir kinders en families bly.





