NOORDWES. – Hendrik Louis Pretorius (59) en Lourance Johannes Benjamin Roos (42) het Donderdag hul eerste verskyning op aanklagte van moord en huisroof in die landdroshof in Swartruggens gemaak. Johan Christian Scheepers (52), ook bekend as Riana, is in Andriesstraat vermoor aangetref.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Sam Tselanyane, volg die hofverskyning ná hul inhegtenisneming op 9 Junie. Die polisie is op 25 Maart na ‘n klagte by die oorledene se adres uitgeroep. Met aankoms het hulle die liggaam van die oorledene met veelvuldige steekwonde aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.
’n Intensiewe ondersoek is van stapel gestuur en die polisie het alle leidrade ondersoek. ’n Paar dae ná die moord is goedere wat glo uit die oorledene se huis gesteel is, op ’n plaaslike WhatsApp-groep geadverteer. Later is dieselfde items weer met ’n ander nommer en adres geadverteer.
Pretorius het intussen ook self ’n inbraak en diefstal by die oorledene se woning aangemeld, wat verdere ondersoek laat ontstaan het. Met behulp van intelligensie-eenhede en ’n deursoekingslasbrief is ’n selfoon by sy woning gevind, waarop inligting oor die beweerde moordwapen ontdek is. Die twee mans is daarna in hegtenis geneem.
Pretorius en Roos bly in aanhouding totdat die saak vir ‘n formele borgtogaansoek op 17 Junie in die hof voorkom. Ondersoek in die saak duur voort.





