WES-KAAP. – Willem Olivier (52) en Kelvin Vlok (24) is elk tot 42 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Christina Walters (77) op 4 Maart 2023, op die plaas Papkuil naby Ceres. ‘n Derde beskuldigde is ingevolge die Kinderjustisiewet gevonnis. Die drie beskuldigdes het beurte gemaak om na die weerlose slagoffer, wat hulpeloos op die grond gelê het, te skiet.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die hof het gehoor dat die drie na die plaas toe is onder voorwendsel om ‘n werkkwessie uit te klaar, maar toe die boervrou oorval en ernstig aangerand het, waarna hulle haar uiteindelik geskiet het. Met hulle aankoms het hulle sigarette gevra en terwyl die bejaarde vrou dit gaan haal het, is sy gegryp en uit die huis gesleep waar ‘n gordel en lemmetjiesdraad om haar nek en hande vasgemaak is. Sy is daarna, terwyl sy gelê, het herhaaldelik oor haar hele liggaam geskop.
Terwyl sy buite die huis in pyn gelê het, is die huis deur Vlok geplunder. Die drie beskuldigdes het haar daarna geskiet en het met die gesteelde items, wat kruideniersware, alkohol, ‘n selfoon en vier vuurwapens en ammunisie ingesluit het, op die vlug geslaan. Hulle is na plaas Klein Papkuil waar Olivier gebly het, waar Vlok en die minderjarige ‘n donkiekar gebruik het om die vuurwapens in ‘n veld te versteek. Dit is later tydens die ondersoek aan die polisie uitgewys. Hulle het uiteindelik skuld beken nadat die saak teen hulle opgebou is.
Olivier en Vlok is skuldig bevind aan onder meer moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Die hof het gelas dat sekere van die vonnisse wat opgelê is, waarvan 30 jaar vir moord, saam uitgedien moet word, wat 42 jaar tronkstraf beteken. Die derde beskuldigde, wat ten tyde van die misdaad minderjarig was, is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis – 20 jaar vir moord, met vyf jaar vir vyf jaar opgeskort. Al drie mans is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Die nasionale vervolgingsgesag sê die strawwe vonnisse wys dat ernstige geweldsmisdade streng hanteer sal word.






One Response
Die minderjarige verdien nie spesiale behandeling nie….as hy doen wat hy gedoen het regverdig dit nie spesiale behandeling nie want het alte goed geweet hy mag nie sulke dinge doen nie!Vuur peliton vir al drie moes eintlik gedoen moes wees.