Die wêreldbekende sangeres Mariah Carey het Maandag aangekondig haar ma, Patricia, en haar suster, Alison, is oor die naweek op dieselfde dag oorlede. “My hart is gebroke dat ek my ma verloor het,” het Carey in ‘n verklaring gesê. “In ‘n tragiese wending het my suster ook op dieselfde dag gesterf.”
Patricia, 87, was ‘n voormalige opera-sangeres. Haar verhouding met Carey was deur die jare kompleks. In haar 2020-memoires, The Meaning of Mariah Carey, het die sangeres gepraat oor die pyn en verwarring wat hierdie verhouding veroorsaak het. Ondanks die spanning het Carey in haar boek se opdrag gesê sy glo haar ma het die beste gedoen wat sy kon.
Carey het ook ‘n ingewikkelde verhouding met haar suster, Alison, gehad. In haar memoires het sy geskryf dit was vir haar veiliger om nie kontak met haar suster te hê nie. Alison het later na die publikasie van die memoires vir Carey vir emosionele leed gedagvaar.
Die oorsaak van die twee vroue se dood is nie tans bekend nie. Carey het gevra vir privaatheid tydens hierdie moeilike tyd.
Bronne: BBC, Independent, The Guardian