KWAZULU-NATAL. – ’n Skokkende saak van beweerde kindermishandeling en uitbuiting word tans ondersoek nadat inligting oor twee ma’s aan die polisie oorhandig is. Foto’s en video’s van wat die twee vroue met hulle kinders doen, is glo met mekaar uitgeruil.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hulle is in besit van die foto’s, video’s en boodskappe wat glo wys hoe twee vroue hul eie minderjarige kinders aan onvanpaste en strafbare gedrag blootstel. Die enkelma’s het glo hul liefde aan mekaar verklaar en is glo in ‘n verhouding. Die materiaal is nie openbaar gemaak nie weens die sensitiewe aard van die saak en die feit dat ’n ondersoek reeds aan die gang is.
Volgens inligting het beamptes in Mei van die voorvalle bewus geraak wat na bewering in die eThekwini-gebied plaasgevind het. Die twee vroue, wat in verskillende dorpe woon, het glo inhoud van hul kinders, onderskeidelik ses en sewe jaar oud, met mekaar gedeel en mekaar aangemoedig om die gedrag voort te sit. Daar word verder beweer dat die vroue ook ander ma’s probeer oorreed het om soortgelyke optrede teenoor hul kinders te volg.
Al die beskikbare inligting is vir verdere ondersoek aan die polisie oorhandig. Die verdagtes is Suid-Afrikaanse burgers. Geen verdere besonderhede is in hierdie stadium bekend gemaak nie om die ondersoek en die beskerming van die kinders te verseker. Owerhede het weer ’n beroep op die publiek gedoen om enige vermoedelike gevalle van kindermishandeling onmiddellik aan te meld sodat vinnig ingegryp kan word.





