KATMANDOE. – ’n Massiewe ysblok op die roete net bokant die basiskamp van Mount Everest het honderde klimmers en hul plaaslike gidse gedwing om hul pogings om die wêreld se hoogste piek te bestyg, uit te stel.
Volgens ‘n berig deur ABC News is die sogenaamde serac – ’n groot, onstabiele ysformasie – tussen basiskamp en Kamp Een tans te riskant vir klimmers om verder te klim. Himal Gautam van die Nepal-bergklimdepartement het bevestig dat die ysblok onstabiel is en ’n ernstige gevaar inhou.
Owerhede werk nou saam met klimmers en ekspedisie-organiseerders om die situasie te evalueer, terwyl honderde klimmers by die basiskamp vasgekeer is en nie verder teen die berg kan vorder nie.
Volgens die departement is sowat 410 buitelandse klimmers permitte toegestaan om gedurende die lente-klimseisoen, wat einde Mei eindig, die kruin van Everest te probeer bereik.
Die sogenaamde “Icefall Doctors”, ’n elite-span gidse wat jaarliks die klimroete voorberei deur toue te span en aluminiumlere oor ys- en gletsersplete te plaas, voltooi gewoonlik hul werk teen middel April.
Die risiko vir sneeustortings bly tans hoog. Volgens die sjerpa Lama Kazi wag hulle dat die ysformasie natuurlik afbreek en tot ’n veiliger vlak smelt voordat klimmers toegelaat sal word om voort te gaan.
Bronne: ABC News, The Guardian





