Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het die raad van die nasionale kunsteraad van Suid-(NAC) met onmiddellike effek ontbind.
Volgens die minister spruit die besluit uit ’n langdurige arbeidsdispuut oor prestasiebonusse vir die 2019/20 tot 2021/22 finansiële jare, wat gelei het tot ’n beskermde staking en toenemende finansiële druk op werknemers. Hy sê die raad het versuim om ’n finale skikking te bereik ondanks duidelike riglyne en ’n versoek om dringend op te tree.
McKenzie het die raad reeds in April versoek om ’n spesiale vergadering te belê om ’n eenmalige skikking goed te keur, maar dit is nie afgehandel nie. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor moontlike onreëlmatighede met sekere uitgawes, insluitend werwingsfooie en aankope van mobiele toestelle vir raadslede. Hy het die departement van sport, kunste en kultuur opdrag gegee om die sake te ondersoek.
Met die ontbinding van die raad verloor alle huidige lede hul poste onmiddellik. Die waarnemende uitvoerende hoof en finansiële hoof sal intussen voortgaan om die NAC se daaglikse bedrywighede te bestuur onder toesig van die departement van sport, kuns en kultuur, totdat verdere reëlings getref word.
Die proses om ’n nuwe raad aan te stel, sal nou begin, met die doel om stabiliteit te herstel en te verseker dat die NAC sy rol in die kunssektor sonder verdere onderbreking kan voortsit.
Druk hier om meer te lees.
⁸





