Medicare 24 Tshwane-distrik se huurkontrak beëndig ná beweerde bande met Cat Matlala

Lees ook :

Foto: Matjhiding News Updates

GAUTENG. – Die departement van openbare werke en infrastruktuur het Vrydagoggend ’n huurkontrak met Medicare 24 Tshwane-distrik beëindig, ná ernstige bewerings oor hoe die kontrak toegeken is. Dit is ‘n maatskappy wat glo aan Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word en hou verband met ’n hospitaalfasiliteit in Pretoria-Wes.

Luidens ’n verklaring van Dean Macpherson, die minister van openbare werke en infrastruktuur, het ’n interne ondersoek bevind dat die huurkontrak nie regmatig in werking kon tree nie, aangesien die betrokke hospitaalfasiliteit nooit deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as surplus verklaar is nie. Ingevolge die Wet op Bestuur van Regerings- Onroerende Bates van 2007 bly die SAPD die aangewese gebruiker van die eiendom.

Die huurkontrak is gedurende Desember 2023 met Medicare 24 Tshwane-distrik aangegaan. Die aangeleentheid het onder die soeklig gekom ná bewerings wat voor ’n parlementêre ad hoc-komitee gemaak is, asook ’n media-ondersoek oor die beweerde omseiling van standaardverkrygingsprosesse. “As departement het ons opgetree om staatsbates te beskerm en om te verseker dat daar aan toepaslike wetgewing en bestuursraamwerke voldoen word,” het Macpherson gesê. Hy het bygevoeg dat ’n uitgebreide interne ondersoek nou van stapel gestuur word om amptenare wat die huurkontrak gemagtig het, aanspreeklik te hou, en dat inligting oor moontlike kriminaliteit aan wetstoepassingsagentskappe oorhandig sal word.

Matlala is op 21 Desember 2025 van Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum (C-Max) na Ebongweni Korrektiewe Fasiliteit oorgeplaas. Volgens die departement is die oorplasing deel van standaardbedryfspraktyk en word dit gedoen op grond van veiligheids-, operasionele en bestuursvereistes. Die departement het beklemtoon dat die oorplasing nie Matlala se regte of toegang tot regsdienste beïnvloed nie, en dat hy steeds toepaslike sorg ontvang. Verdere besonderhede oor die veiligheidsredes vir die oorplasing sal nie bekend gemaak word nie.

Vusimuzi “Cat” Matlala, omstrede sakeman, staan saam met medebeskuldigdes op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en regsverydeling tereg. Die klagte spruit uit die beweerde sameswering tussen 12 en 17 Oktober 2023 deur die beskuldigdes in Johannesburg om Tebogo Thobejane te vermoor. Daar word beweer dat daar op Thobejane en twee ander klaers geskiet is. Die staat beweer ook verder dat meer as R120 000, wat aan die komplot gekoppel is, deur die beskuldigdes gewas is en dat ’n vervalste faktuur ingedien is om die oorsprong van die geld te verdoesel en die hof te mislei. 

Dié sakeman se naam is deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi genoem in die ontbloting van ‘n beweerde nasionale sindikaat wat volgens hom politici, regslui, wetstoepassers en sakemanne insluit.

Screenshot
Screenshot

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief